R195.00 ZAR
Add to wishlist

"Sedert 1975 het ek meer as 300 gedigte en woordsketse geskryf en saamgestel oor die Bosoorlog en weermagslewe. Baie hiervan is nog te diep in my gevoelens gewortel om dit met ander te deel.

Hierdie bundel, Kleurskakerings van Skarlaken, is ʼn samestelling van ʼn klein deeltjie van my versameling. Die Bosoorlog het plaasgevind tussen die jare 1966 tot 1989. Met die uitsondering van ons wat daaraan deelgeneem het, is dit ʼn betreklike onbekende konflik. Die redes hiervoor lê waarskynlik gesetel in die effektiewe sensuur wat deur die Suid-Afrikaanse regering en die opponerende magte toegepas was.

Die jonger generasie weet vandag bitter min oor hierdie merkwaardige en ingewikkelde konflik. Tog is dit hierdie stryd wat hulle lewens vandag direk of indirek beïnvloed. Die Bosoorlog was deel van een van die grootste ideologiese Koue Oorlog konflikte, en naby ineengeweef met die gewapende bevrydingstryd van Angola, Suid-Wes-Afrika en Suid-Afrika. Ongeveer 600 000 Suid Afrikaanse soldate het deelgeneem aan die konflik oor ʼn tydperk van 23 jaar. Die deelname getalle aan die opponerende kant was veel meer. Die diep uitwerking van die stryd op die huidige oud SAW (Suid Afrikaanse Weermag) soldate is vandag sigbaarder as ooit.

Die naam - Kleurskakerings van Skarlaken - is simbolies van hierdie gevoelens. Nie almal was op die gevegsfront nie, nie almal het die werklike trauma in dieselfde graad van heftigheid beleef nie. Dit was ʼn bloedige stryd, en skarlaken is die kleur van bloed. Nie almal sien dieselfde skakerings nie.

Met hierdie bundel poog ek om die volle spektrum van die lewe in die SAW in dig en woordskets formaat weer te gee. Ek dig en skryf vanuit my eie blootstelling en verwysingsraamwerk vanaf 1975 tot die hede. Dit vervat die wroeginge, die vreugdes, die hartseer, die opwinding, die verlange en vele ander emosies wat so deel was van soldaatwees. Een aspek waarvan ek nie veel gedigte van het nie, is die gedeelte oor moederliefde. Om daarvoor te vergoed sluit ek ʼn kort versameling van Mara du Plessis se ongepubliseerde werke by die bundel in. Haar besondere diepte aanvoeling en styl vul daardie leemte in my versameling terdeë aan.

In hierdie bundel poog ek om gebeure weer te gee soos oor hoe ek dit ervaar het, en soms nog steeds ervaar. Sou die leser dan die meer erotiese gedeeltes raakloop, onthou dat dit geskryf was oor jong manne in die fleur van hulle lewens, vasgevang in onvervulde behoeftes en drange. Ek het ook gepoog om die gevoelens van soldaatwees, ongeag van die vyand se kant of ons eie kant af, in perspektief te probeer stel. Soldaat-wees is universeel. Die bundel bevat ook ʼn paar gedigte oor homoseksualiteit vanuit daardie era. Dit was vir sommiges daardie jare ʼn omstrede onderwerp, en vir sommige veterane tot vandag toe nog steeds so. Met ʼn terugblik oor baie jare van gedurende en daarna, kan ons aanvaar dat dit net so deel was van die Bosoorlog as enige ander belewenis. Die temas van die gedigte en woordsketse is wyd uiteenlopend en weerspieël nie noodwendig my eie sienings nie. Ek is ʼn kadet van die lewe wat net soveel, indien nie meer nie, deur ander se oë leer as deur my eie.

Kleurskakerings van Skarlaken was op 16 Desember 2014 vrygestel. Sowat 280 bladsye met 104 Gedigte en 15 Woordsketse oor die Bosoorlog. Dankie aan die makkers wat my gedigte en woordsketse geniet. Dit was vir julle geskryf, want nie almal hou van gedigte nie. Skarlaken kom uit die siel van soldaatwees."

DAWID LOTTER
16 DESEMBER 2014

Customer Reviews

Based on 5 reviews Write a review