R295.00 ZAR
Add to wishlist

Trou Tot Die Dood Toe: Die Suid-Afrikaanse Polisiemag, heropen die laaste polisiekommissaris onder die ou bedeling, Johan van der Merwe, die verlede. Nie net verklap hy al die polisie se geheime rondom die stryd teen ANC-aktiviste en -terreur nie, maar hy gee ook ‘n boeiende insig in die optrede van P.W. Botha, Adriaan Vlok, F.W. de Klerk, Pik Botha en ander politici van destyds. 

Hierdie boek van 432 bladsye het reeds by verskyning ‘n herrie ontketen onder diegene wat die ANC se weergawe van die geskiedenis tydens die sewentiger- en tagtigerjare as die evangelie aanvaar. Omdat hy geen politieke meester meer dien nie, bied Van der Merwe die feite koud en klinies aan sodat ‘n stuk onlangse Suid-Afrikaanse geskiedenis skielik ideologies naak gestroop voor ons te voorskyn kom, byna soos ‘n ou skildery wat vir die eerste keer skoongemaak word. 

Die Waarheids- en Versoeningskommissie word aan die kaak gestel as ‘n wesentlik bevooroordeelde liggaam wat sy mes vir die polisie in gehad het, maar ANC-aansoeke om amnestie met ‘n gewillige rubberstempel gehanteer het. In ‘n nostalgiese aanloop tot sy uiteindelike vername rol as hoof van die veiligheidstak en latere kommissaris, asook lid van die staatsveiligheidsraad, skilder Van der Merwe ‘n prentjie van ‘n eens gedissiplineerde polisiemag waarin elkeen trots was om te dien. 

Die boek wemel van staaltjies en anekdotes wat die gebeure vir die leser werklik maak. Ook die verhaal van Vlakplaas en kol. Eugene de Kock word uitvoerig in die boek behandel sodat die leser met behulp van die ware feite sy eie oordeel oor die gebeure rondom dié stuk omstrede geskiedenis kan vel. 

Sagteband, 432 bladsye